Oor Ons

SAARKIE bestaan uit drie pragtige, talentvolle musikante.

 
Van links na regs :
Erika Pretorius -  baskitaar en klawerbord en agtergrondstem (COPA Klawerbord en baskitaar)
Lila Botha - dromme en agtergrondstem (BA Menslike bewegingskunde - Universiteit van Pretoria)
Adèle Fouché- kitaar, mondfluitjie en hoofsanger (BA Musiek Universiteit van Pretoria)
Al drie is afkomstig van die Oos-Rand maar is woonagtig in Pretoria
 
SAARKIE het die afgelope tien jaar diep spore kom trap in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en kan deesdae beskryf word as die land se gunsteling vroulike rockgroep. Hierdie Ghoema (Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo, Groep van die Jaar)- en SAMA (Beste Rock-Album)-benoemde trio is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n eiesoortige, energieke, bars-uit-jou-nate-musiekstyl wat getuig van hulle talent, passie en sinergie. Hulle funky elektries-akoestiese ritmes, solos en verhoogpersoonlikheid laat gehore van alle ouderdomme nader staan om saam te dans.
 
Die groep het, sedert hul ontstaan, al stempel afgedruk by al die grootste Suid-Afrikaanse muskiekfeeste soos Aardklop, KKNK, STRAB en Innibos en vele meer  reg oor die land. Hulle het ook die verhoog gedeel met van die land se bekendstes soos Karen Zoid, Klopjag, Van Coke Kartel, Francois van Coke,  Steve Hofmeyr, Kurt Darren, Die Heuwels Fantasties, The Parlotones, Eden en Pieter Koen.
 
MEDIA
SAARKIE het ook al in vooraanstaande publikasies, waaronder Beeld, Vrouekeur, Huisgenoot, Kampus Beeld, Die Burger, Die Laevelder en vele meer, verskyn.
 
TELEVISIE EN RADIO
SAARKIE was al op televisieprogramme soos: : Dis Hoe Dit Is Met Steve, MK Live, Fiesta, Expresso, Jou Show met Emo Adams, kykNET Top 20, kykNET JAM, Lekker TV, Jam Sandwich, CNBC Africa en Skole Top 10. “Dit was vreeslik lekker om op Jam Sandwich saam met Okmalumloolkat te werk. Ons het slegs vier ure gehad om ’n liedjie saam te maak, wat goed genoeg is om op televisie te speel. Ons kon nie sy taal praat nie en hy nie ons s’n nie, maar tog het ons gou mekaar gevind en ’n cool collaboration saamgestel,” vertel hulle.
 
SAARKIE doen ook gereeld radio-onderhoude en het tot al luisteraars in Nieu-Seeland met hulle talent en musiekvideo’s beïndruk.
 
 
 
DIE MUSIEK WAT HULLE OP DIE MAP GESIT HET
 
Die groep het in 2009 hul debuutalbum, Luister, vrygestel.
 
Identiteit, hul tweede album, het in Maart 2011 die lig gesien. Die album verteenwoordig selfvertroue en moedig die luisteraar aan om sy of haar eie identiteit te vind en uit te leef”, sê SAARKIE.  Die album bevat ook ’n snit wat deur die land se bekendste rocker, Jan Blohm, geskryf is. Nader Aan My is baie positief deur ontvang en het sommer van die begin af die trefferleer geklim. “Dit was absolute eer en hoogtepunt vir ons om saam met so ’n groot kunstenaar soos Jan Blohm te werk en geassosieer te word. Ons is baie opgewonde oor die liedjie en dit pas perfek in by SAARKIE se vibe,” sê die meisies.
 
Album nommer drie, Reisiger, is in Maart 2015 vrygestel en word beskou as hulle beste album tot op datum.
 
Saarkie se vierde album “Queen van die Toorbos”, is in September 2017 vrygestel.  VIR ALTYD  is een van die liedjies op die album wat gereeld op die radio gehoor word en die musiekvideo word gereeld op Kyk net gespeel.  Vir altyd bou voort op die elektries-akoestiese, bars-uit-jou-nate-uit, wenresep waarvoor dié groep bekendheid verwerf het en kan beskryf word as ’n mengsel van moderne Pop en Rock. Die liedjie is geskryf deur Adèle Fouché en Mjön van Blommestein en verteenwoordig die goeie plek waarin die Saarkies hulleself tans bevind. “Almal het iemand wat hulle vir altyd in hulle lewe wil hê, selfs al droom jy nog net van ’n ontmoeting met so ’n persoon. Die lied vertel van iemand se begeerte om sy of haar drome uit te leef saam met hierdie persoon, vir altyd...,” vertel hulle entoesiasties. “Ons dink mense sal daarvan hou omdat die universele boodskap met jonk en oud praat. Dis ook een van daardie liedjies waarop almal kan dans en saamsing.” Daar word ook ’n musiekvideo vir hierdie treffer beplan en die beeldmateriaal is glo regoor die land geskiet.
 
Volgens hulle, kan luisteraars uitsien na nuwe klanke, soos klavier- en tjellomusiek wat by seker ballades ingewerk is en lekker kitaarsolo’s by die Rockliedjies. Elf oorspronklike snitte en drie verwerkings van bekende gunstelinge, soos Stille Waters (Laurika Rauch), I’m On Fire (Bruce Springsteen) en Beds are Burning (Midnight Oil), vorm deel van die speellys en die titelsnit word uitgesonder as hulle gunsteling. “Die lirieke vertel ’n opwindende fiksionele verhaal, met ’n verrassende storielyn. Instrumenteel is dit ’n opwindende liedje om op te voer en ons hou veral van die mondfluitjie. Die beste van alles is dat Queen van die Toorbos ’n energieke reaksie uit die gehoor lok en ons mal is oor daardie gevoel,” verduidelik hulle. “Dis ’n Pop-rockalbum, met ’n SAARKIE-benadering. Dit bevat woorde vir die hart, energie vir die siel… en solo’s vir die vale!”
 
Over the sea, ook vanaf die nuwe CD, is geïnspireer deur staaltjies, wat hulle vriende wat op skepe werk, met hulle gedeel het. “Dit gaan oor hoe ’n mens na ’n ver plek toe seil om jou drome waar te maak. Die avontuur wat die see inhou, en die misterie wat aan die oorkantste wal lê. Die liedjie het ’n reggae-gevoel, amper soos UB40, met mooi harmonieë.
 
 
 
 
SOSIALE MEDIA SKAKELS
Facebook: http://www.facebook.com/#%21/pages/SAARKIE/321222057747
Twitter: @SaarkieBand
Web: www.saarkie.com
 
INFORMASIE
Besprekings
Elize
Cell: 082 575 3184
E-mail: [email protected]
 
Bemarking & Publisiteit
Starburst Promotions
Alishia van Deventer
Cell: 083 635 4717
E-mail: [email protected]
Web: www.starburstmusic.co.za
 
 
 

 

Adele
Lila
Erika